Gebedsonderwerpe vir 2025

GEBEDSGROEP

Kom elke Woensdag om 9:00 by die kerk bymekaar.

Sien die week se onderwerpe hier onder.

Kontakpersoon:
Hannetjie Gericke, 021 – 852 1912 / o82 778 1510.

Klik hieronder vir
Gebedsonderwerpe van:

5 Februarie 2025

  • Ons kantoor- en terreinpersoneel – Liesle, Braam, Sharon en Siya.  Bid vir geesdrif en goeie gesondheid om die werk te doen wat so noodsaaklik is om ons gemeentelewe glad te laat verloop.
  • Helderberguitreik:  KidsXpress publiseer lesmateriaal met PowerPoint aanbiedings, visuele hulpmiddels en liedjies wat deur Jeugpredikante en Jeugwerkers gebruik word om kinders met opwindende, Skrifgetroue inhoud te bedien.  Bid dat die boodskap ‘n blywende indruk op die kinders sal maak.
  • Bid vir die veiligheid van ons soldate in die ooste van die DRK en vir die naastebestaandes van die gesneuwelde soldate.  Bid vir suksesvolle vredesamesprekings om die konflik te beëindig.
  • Die premier en regering van die Wes-Kaap.  Bid vir wysheid om die provinsie goed te bestuur tot voordeel van al die inwoners.

29 Januarie 2025

  • Helderberguitreik: Die Kanga&Roo projek bied finansiële ondersteuning aan veiligheidsouers wat aanneembabas versorg tot hulle na die aanneemgesin gaan.  Bid vir Tania en Werner Schulz wat die projek koördineer, vir die veiligheidsouers en vir genoeg finansiële ondersteuning.
  • Al die projekte wat nog hierdie jaar vir Dienende Hande voorlê. Bid dat daar genoeg helpers sal wees om weer met geesdrif en goeie samewerking te dien soos in die verlede.  Dank God vir hulle groot bydrae tot ons gemeentelewe.
  • Bid vir die mense in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo wat al dekades lank ly onder geweld en burgeroorlog en wat nêrens het om heen te vlug nie. Bid dat daar ‘n oplossing gevind sal word.
  • Die personeel van die al die aftree- en versorgingsoorde in die Helderbergarea. Bid vir fisiese krag en vir toewyding aan hulle taak, dat hulle met liefde, respek en geduld teenoor die inwoners sal optree.

22 Januarie 2025

  • Ons gemeente se kategese – bid vir genoeg geesdriftige kategete.  Bid ook vir die kinders.  Bid dat wat hulle hoor hulle geestelik sal aanraak en dat hulle iets van die liefde van Christus sal ondervind.
  • Helderberguitreik:  Die Helderberg Hospitaal projek olv Lynette Jacobs skakel met Estie Vlok, die maatskaplike werker by die hospitaal oor spesifieke behoeftes,soos die Thula teddie breiprojek waarmee baie gemeentelede help, en versorgingspakkies vir pasiënte wat met leë hande by die hospitaal aankom.  Bid dat daar hierdie jaar ook goeie samewerking sal wees om pasiënte en personeel te ondersteun.
  • Die ampstermyn van die nuwe president van die VSA.  Bid vir goeie besluite wat sal bydra tot vrede en stabiliteit in die wêreld.
  • Die keuring en opleiding van polisierekrute.  Bid dat die regte persone gekeur sal word en dat hulle opleiding hulle sal voorberei om ‘n effektiewe bydrae te lewer tot misdaadbekamping en skuldigbevinding van aangeklaagdes, sodat ons land ‘n veiliger plek sal word vir al die inwoners.

15 Januarie 2025

  • Die nuwe skooljaar met besondere uitdagings soos begrotingstekorte en sny van onderwysposte.  Bid vir skoolhoofde en personeel wat nou ‘n ekstra las moet dra.  Bid vir hulle vir energie, geesdrif en toewyding.
  • Johan en Christine en hulle kinders, dat hierdie besondere jaar vir hulle geseënd en vol vreugde sal wees.
  • Bid dat daar hierdie jaar oplossings sal kom vir die oorlog in Oekraïne en die stryd in Gasa.  Bid vir vlugtelinge en ontworteldes wie se woonplekke verwoes is.
  • Ons regering – bid dat daar besluite geneem en uitgevoer sal word wat sal lei tot ekonomiese groei en minder werkloosheid.