Gebedsonderwerpe vir 2026

GEBEDSGROEP

Kom elke Woensdag om 9:00 by die kerk bymekaar.

Sien die week se onderwerpe hier onder.

Kontakpersoon:
Hannetjie Gericke, 021 – 852 1912 / o82 778 1510.

Klik hier vir Gebedsonderwerpe van:

24 Junie 2026

  • Francien en haar helpers by die Caritasbediening – bid vir genoeg fondse om in die behoefte te voorsien. Bid ook vir die ontvangers van die hulp.
  • Helderberguitreik: Roelof Louw en die Ramphulpspan –  bid dat hulle ‘n effektiewe rol sal kan speel waar daar rampe en nood in die gemeenskap is.  Bid ook vir hulle veiligheid.
  • Bid vir al die buitelanders wat bedreig word deur xenofobiese geweld. Bid dat die beplande betogings op 30 Junie vreedsaam sal verloop.  Bid ook dat die regering effektiewe planne sal maak en uitvoer om instroming van onwettige migrante effektief te bekamp.
  • Bid vir die veiligheid van kinders gedurende die komente skoolvakansie. Bid dat hulle bewaar sal word van mense wat hulle probeer misbruik en van negatiewe invloede.

10 Junie 2026

  • Elisma Lotz en haar helpers wat met hulle gewilligheid en vriendelikheid Sondagoggende na die erediens vir ons ‘n saamkuiergeleentheid skep.
  • Bestuursgroepvergadering op 22 Junie – bid vir leiding met die besluite wat hulle in belang van die gemeente moet neem. Bid vir Willem wat die vergadering lei.
  • Bid vir die minister van Basiese Onderwys en haar amptenare vir wysheid om beleidsbesluite te neem en deur te voer wat leerders effektief voorberei vir die res van hulle skoolloopbaan en vir die lewe na skool.
  • Bid vir gewilligheid by die strydende partye in die Midde-Ooste om vir vrede te kies.

3 Junie 2026

  • Bid vir al die slagoffers van xenofobiese geweld in Suid-Afrika, veral vroue en kinders. Bid vir ‘n verandering van gesindheid teenoor migrante.  Bid dat kerke hierin ‘n rol sal speel. Bid dat die regering daadwerklik sal optree. 
  • Uyavula leesprojek van Helderberguitreik – bid vir nog lesers om te help opbou aan kinders uit agtergeblewe gemeenskappe.
  • Geopende Deure bid hierdie week vir Venezuela waar daar verkiesings gehou moet word. Bid vir ‘n nuwe regering wat ten gunste van burgerlike vryhede en veral godsdiensvryheid sal wees.
  • Bid vir ons President en die kabinet. Bid dat elke minister sy/haar werk met toewyding sal doen.  Bid vir wysheid om goeie besluite te neem en deur te voer.

27 Mei 2026

  • Die Kersmark voorbereidings. Bid ook dat daar goeie voorleggings van voornemende uitstallers sal wees.
  • Geweldsmisdaad is ‘n krisis in ons land. Bid vir effektiewe ingryping om ‘n nuwe, doeltreffende en korrupsievrye polisiediens op te bou.
  • Bid vir bevryding van elke veslaafde in ons land. Bid vir personeel van rehabilitasiesentrums – vir geduld, uithouvermoë, empatie en wysheid.
  • Christene in Iran – vir volharding te midde van teenstand en die spanning in die land weens die oorlog. Bid dat hulle lig sal wees daar waar hulle leef.  Bid vir hulle beskerming.

20 Mei 2026

  • Bid vir die kerkraadsvergadering Dinsdagaand. Bid vir die voorsitter en elke kerkraadslid, dat almal sal deelneem met goedgesindheid en openheid vir die leiding van die Gees sodat die regte besluite geneem sal word.
  • In baie dele van die land het boere die afgelope tyd geweldige verliese weens natuurrampe gely. Bid vir elke boer vir die moed om voort te gaan en wysheid om die uitdagings te hanteer.  Bid ook dat die regering effektiewe bystand sal bied.
  • Melanie en die bestuur van Helderberguitreik. Bid vir wysheid met besluite en vir goeie onderlinge verhoudings en samewerking tot voordeel van al die projekte.
  • Volgens berigte is IS (Islamitiese Staat) besig om hulle bedrywighede al verder suidwaarts in Afrika te probeer uitbrei. Bid dat regerings die bedreiging ernstig sal opneem.  Bid vir bevolkings wat alreeds onder die aktiwiteite van IS ly.

13 Mei 2026

  • Bid vir Lynette Jacobs en haar span wat in samewerking met die maatskaplike werker ondersteuning gee aan pasiënte by Helderberghospitaal. Bid dat hulle werk sal bydra om pasiënte te bemoedig en ondersteun en iets van die liefde van Christus te laat beleef.
  • Almal wat swaar getref is deur die oorstromings in ons land. Bid vir die nooddienste en ondersteuningspanne soos Gift of the Givers.  Bid vir mense se veiligheid.
  • Die werk van die Nagskuiling – bid vir die personeel, vir toewyding en geduld onder hierdie uitdagende omstandighede. Bid ook vir genoeg finansies om die mense wat daar kom slaap te help.
  • Hou aan bid vir vrede – in Oekraine, Gasa, Iran, Soedan en soveel ander plekke wat deur konflik geteister word.

6 Mei 2026

  • Bid vir Willem se voorbereiding vir Pinkster. Bid dat ons as gemeente in die Pinkstertyd sal oop wees vir die werk van die Gees.
  • Bybelverspreiding in Vietnam waar die owerhede vyandig is teenoor Christene. Bid dat elke Bybel by die regte persoon sal uitkom.  Bid vir die veiligheid van die verspreiders.
  • Hulpverlening in die gebiede wat erg deur oorstromings geraak word, soos langs die Oranjerivier in die Noord-Kaap. Bid dat hulp en voorrade by die gemeenskappe sal uitkom wat van die buitewêreld afgesny is.
  • Die bestuur en personeel van Huis Marie Louw. Bid dat hulle met groot toewyding die belange van die inwoners altyd eerste sal stel.  Dank die Here vir elke toegewyde personeellid.

29 April 2026

  • Helderberguitreik: Bid vir Sonette van Wyk, projekleier van Seniorsorg en haar span.  Bid vir genoeg finansiële ondersteuning en finansies om ‘n verskil aan vele behoeftige seniors se lewens te maak.  Bid vir geesdrif en liefdevolle harte.
  • Die instansies en vrywilligers wat betrokke is by projekte om haweloses te ondersteun. Bid vir energie en deursettingsvermoë en ook vir voldoende finansies om in die behoefte te voorsien.
  • Die burgemeester en burgemeesterskomitee van Kaapstad wat die uitdagings van die stad moet hanteer. Bid dat pogings om geweld en misdaad te bekamp en wet en orde te handhaaf ‘n beduidende verskil sal maak.
  • Bid vir regerings in Afrikalande wat geteister word deur fundamentalistiese insurgente, dat hulle effektief sal optree. Bid vir plaaslike bevolkings wat voortdurend in vrees leef.

22 April 2026

  • Helderberguitreik: Dank die Here vir die werk van die Dienssentrum.  Bid vir die vrywilligers, vir energie, vreugde in hulle dienslewering en uithouvermoë.  Bid vir voldoende finansies en donasies om in die behoefte te voorsien.  Bid ook vir die ontvangers van die diens.
  • Bid vir Cecile en haar span met die beplanning van die Kersmark. Bid ook dat Cecile se heupvervangingsoperasie in Mei glad sal verloop en dat sy vinnig sal herstel.
  • Bid vir die 90% tieners met geestegesondheidsuitdagings (depressie, trauma, swak sosio-ekonomiese omstandighede) wat nie toegang tot sielkundige hulp het nie.  Bid vir elke volwassene wat uitreik na sulke kinders om hulle te ondersteun.
  • Bid dat Iran en die VSA tot ‘n ooreenkoms sal kom wat inwoners van die Golfgebied in staat sal stel om met hulle normale lewens voort te gaan.

 15 April 2026

  • Bid vir Dienende Hande se voorbereidings vir die Herfsmark aan die einde van Mei. Bid vir uitstallers, genoeg produkte en genoeg helpers.
  • Vir elke persoon in ons land wat die moed het om as fluitjieblaser op te tree ten spyte van die risiko. Bid vir hulle beskerming en dat die regering die veiligheid van fluitjieblasers ernstig sal opneem.
  • Die President en sy kabinet – bid vir wysheid en ook vir die wil om doeltreffend te regeer ter wille van ons land en sy mense.
  • Bid vir almal wat worstel met die donkerte van depressie. Bid vir hulp en ook vir begrip van die mense om hulle.

 8 April 2026

  • Bid vir die nuwe skoolkwartaal – vir elke skoolhoof en onderwyser vir wysheid, liefde en geduld. Bid vir leerders wat akademies swaar kry of sukkel om aan te pas in die skool.
  • Ons gemeente se bedrywighede hierdie kwartaal – dat ons met geesdrif sal deelneem en so die gemeenskap van die gelowiges beleef.
  • Helderberguitreik – bid vir die Bestuur en die Bestuursvergadering Maandagaand, dat elke bestuurslid sensitief sal wees vir die leiding van die Gees en ook vir mekaar.
  • Al die konflikte wat die wêreld teister – bid vir mense wie se lewens totaal daardeur ontwrig word. Bid vir leiers wat ter wille van hulle ego’s bereid is om onmeetlike chaos en verwoesting te skep.  Bid vir lig in hulle lewens.

25 Maart 2026

  • Die beskerming van kinders wat gedurende die skoolvakansie nie toesig sal hê nie. Bid dat hulle bewaar sal word van slegte invloede en van uitbuiting deur volwassenes.
  • Bid vir instansies en vrywilligers wat programme in tronke bedryf om gevangenes te help om met hulle verlede vrede te maak, God se vergifnis te aanvaar, self te vergewe en verantwoordelikheid vir hulle lewens te aanvaar.
  • Bid vir nugterheid by leiers wat die krisis in die Midde-Ooste moet hanteer. Bid vir die mense van Iran.  Bid vir ‘n regering wat almal se regte sal erken en godsdiensvryheid sal toelaat.
  • Almal wat siekes tuis moet versorg en wat soms uitgeput en moedeloos voel. Bid vir geduld, fisiese krag en groot genade. 

18 Maart 2026

  • Bid vir die boerderygemeenskap wat baie swaar kry agv bek- en klouseer. Bid vir boere wat groot verliese ly of reeds alles verloor het waarvoor hulle ‘n leeftyd lank gewerk het.  Bid vir moed om voort te gaan.  Bid vir doeltreffende ingryping deur die regering.
  • Veiligheid op die paaie gedurende die komende skoolvakansie. Bid dat bestuurders geduldig en bedagsaam sal wees en padreëls sal gehoorsaam.
  • Gelowiges wat vervolging beleef – bid dat hulle in hulle moeilike omstandighede die nabyheid en vreugde van Christus sal ervaar. Bid vir bewaring.
  • Dank God vir die werk van die span van Helderberg Uitreik se Seniorsorgprojek. Bid vir al die mense wat deur hulle bereik word van wie baie geen steun van familie kry.  Hulle is heeltemaal afhanklik van donasies vir basiese behoeftes soos toiletware en klere.

11 Maart 2026

  • Voorbereidings vir die Paassangdiens – bid vir Babette en almal wat betrokke sal wees. Bid ook vir Babette vir ‘n geseënde en gelukkige nuwe lewensjaar.
  • Ons land se gesondheidsdienste, veral in gebiede waar dit feitlik ineengestort het. Bid dat daar by die leiers van elke provinsiale gesondheidsdepartement die wil sal wees om dinge te laat werk en korrupsie uit te te roei.
  • Bid dat die situasie in die Midde-Ooste nie verder sal eskaleer nie. Bid vir die burgerlike bevolking wat die slagoffers is.
  • FEBAradio versoek gebed vir hulle opleiding van omroepers in Soedan. Bid vir kandidate wat die bevolking in die verskillende tale kan bedien.

4 Maart 2026

  • Die inwoners van talle stede en dorpe kry baie swaar onder watertekorte en -onderbrekings agv swak onderhoud, vandalisme en wanbestuur van fondse. Bid dat die regering se pogings om in te gryp sal vrugte afwerp.
  • Bid vir al die burgerlikes in die Midde-Ooste wat vasgevang is en bedreig word deur die militêre aanvalle. Bid dat hierdie konflik sal lei nie tot meer verwoesting nie, maar tot  geregtigheid, vryheid en menswaardigheid vir al die mense van Iran.
  • Almal op die voorbiddinglys en ook ander gemeentelede wat siek is en swaar kry. Bid vir uitkoms in situasies waar die versorger self ook siek is.
  • Bid vir ‘n werkbare oplossing vir die bendegeweld op die Kaapse Vlakte. Bid vir die inwoners wat gedurig onder spanning leef.

25 Februarie 2026

  • Die Betesdabediening – bid vir Anne du Plessis en al haar helpers. Bid vir empatie en meelewing sodat hulle ondersteuning sal help om dié wat swaar kry se las ligter te maak.
  • Ons regering en regerings oor die wêreld se stryd teen dwelmhandel. Bid dat lande sal saamwerk om ‘n beduidende impak te hê op hierdie probleem wat soveel lewens verwoes.
  • Ouers van kinders met gestremdhede – bid vir aanvaarding, geduld en wysheid. Bid ook vir onderwysers, terapeute en dokters wat ondersteuning gee.
  • Wes-Kaapse minister van onderwys en die amptenare van die departement. Bid vir wysheid met besteding van die begroting in die beste belang van die leerders.

18 Februarie 2026

  • Bid dat gelowiges in ons land God se liefde met nederigheid en verdraagsaamheid sal uitleef en so bakens van hoop in ons samelewing sal wees.
  • Die plaaslike polisiekantoor – vir die bevelvoerder en elke polisielidlid se veiligheid en vir wysheid en genade om elke dag se druk te hanteer. Bid ook vir hulle gesinne.
  • Bid vir almal wat broos en afhanklik geword het. Bid vir genade om daarmee vrede te maak en bid dat elkeen God se liefdevolle sorg sal ervaar.
  • Bid vir Melanie en die bestuur en personeel van Helderberg Uitreik vir wysheid wanneer hulle besluite moet neem en vir energie en geesdrif om projekleiers en -lede te ondersteun en te inspireer.

11 Februarie 2026

  • Bid vir die Truth2Kidskamp vir kinders uit moeilike omstandighede wat vir 27 Feb tot 1 Maart beplan word. Bid vir genoeg borgskappe sodat daar weer 55 kinders kan saamgaan.
  • Die werk van die Madlanga Kommissie wat polisiekorrupsie en georganiseerde misdaad moet ondersoek. Bid dat die werk van die kommissie ‘n beduidende tree vorentoe sal wees in die stryd teen korrupsie en georganiseerde misdaad.
  • Volgens Geopende Deure is 14 van die top 50 lande waar Christene ernstige vervolging beleef, in sub-Sahara Afrika. Tree in vir vrede, geregtigheid en herstel in hierdie lande wat verskeur word deur oorlog en geweld.
  • Bid vir geskikte en bekwame persone om op die Bestuurskomitee van Huis Marie Louw te dien. Hannetjie Gericke:  hannetjiegericke@gmail.com

4 Februarie 2026

  • Bid vir die Truth2Kidskamp vir kinders uit moeilike omstandighede wat vir 27 Feb tot 1 Maart beplan word. Bid vir genoeg borgskappe sodat daar weer 55 kinders kan saamgaan.
  • Die werk van die Madlangakommissie wat polisiekorrupsie en georganiseerde misdaad moet ondersoek. Bid dat die werk van die kommissie ‘n beduidende tree vorentoe sal wees in die stryd teen korrupsie en georganiseerde misdaad.
  • Volgens Geopende Deure is 14 van die top 50 lande waar Christene ernstige vervolging beleef in sub-Sahara Afrika. Tree in vir vrede, geregtigheid en herstel in hierdie lande wat verskeur word deur oorlog en geweld.
  • Bid vir geskikte en bekwame persone om op die Bestuurskomitee van Huis Marie Louw te dien.

28 Januarie 2026

  • Ons gemeente se Caritasbediening – bid vir genoeg helpers en fondse om in die nood te voorsien. Bid ook vir die ontvangers van die hulp – dat hulle sal streef daarna om selfversorgend te word.
  • Bid vir die veiligheid van brandspanne wat ‘n besonder uitdagende seisoen beleef. Bid dat mense verantwoordelik met vuur sal omgaan.
  • Al die boere wat swaar getref word deur die bek- en klouseerepidemie. Bid dat die regering die probleem daadwerklik en doeltreffend sal aanpak.
  • Bid vir gelowiges wat weens armoede of vervolging nie toegang tot ‘n Bybel het nie. Bid vir al die instansies wat met toewyding werk om in die behoefte te voorsien.

21 Januarie 2026

  • Braam, Liesle, Sharon en Siya – bid dat hierdie jaar vir hulle geseënd sal wees en dat hulle vreugde sal vind in hulle werk.
  • Ds Werner en al die kategete – bid vir geesdrif en inspirasie, dat hulle iets van die liefde van Christus aan die kinders sal oordra.
  • Duisende Nigeriese Christene is verlede jaar ontwortel weens die voortslepende geweld in noordelike Nigerië. Bid dat God aan hulle hoop en stabiliteit sal gee.
  • Bid vir almal wat naasbestaandes verloor en groot skade gely het in die vloede in Limpopo en Mpumalanga. Bid ook vir ons buurlande waar daar groot skade en lewensverlies is.

14 Januarie 2026

  • Willem, Jeanri en Dawid, vir dit wat hulle nodig het om by hulle nuwe omstandighede aan te pas. Bid dat hulle ‘n geseënde bediening in ons gemeente sal beleef.
  • Bid vir al ons gemeentebedrywighede wat nou aan die gang kom. Bid vir elkeen wat betrokke is vir die nodige geesdrif en energie en vir goeie gesondheid.
  • Bid dat 2026 ‘n goeie jaar vir ons land sal wees. Bid dat daar vordering sal wees met die oplossing van al die menigte uitdagings sodat iets van die droom van ‘n beter lewe vir almal sal begin sigbaar word.
  • Bid vir elke gemeentelid in ons spesifieke omstandighede – dat ons elkeen die wysheid sal ontvang om die dinge waar dit op aankom te onderskei en ons energie daaraan te gee.