Gebedsonderwerpe vir 2025

GEBEDSGROEP

Kom elke Woensdag om 9:00 by die kerk bymekaar.

Sien die week se onderwerpe hier onder.

Kontakpersoon:
Hannetjie Gericke, 021 – 852 1912 / o82 778 1510.

Klik hier vir Gebedsonderwerpe van:

19 November 2025

  • Bid vir die nuutverkose kerkraadslede. Bid dat hulle duidelike leiding sal ontvang oor hulle besluit.  Bid vir die hele kerkraad, dat elke lid baie naby aan God sal leef.
  • Die finale reëlings vir die Kersmark. Bid vir al die uitstallers wat nou baie hard werk.  Bid vir genoeg helpers.
  • Geopende Deure se projek om Bybels aan gelowiges in geslote lande te verskaf. Bid vir fondse, vir hulle veiligheid, en dat elke Bybel ‘n groot impak sal hê.
  • Elkeen in ons gemeente wat weens ouderdom en gesondheidsprobleme afhanklik geword het. Bid vir vrede in hulle harte.  Bid vir hulle versorgers, vir krag om die taak met liefde vol te hou.

12 November 2025

  • Bid vir die provinsie se brandbestryders wat alreeds ‘n baie besige tyd beleef. Bid dat mense verantwoordelik sal wees met vuur.  Bid ook vir die veiligheid van almal wat brande bestry.
  • Leerders wat met eksamens besig is. Bid vir leerders wat onder baie moeilike omstandighede moet studeer.  Bid vir goeie gesondheid en vir motivering en volharding.
  • Die laaste Kersmarkvergadering op 18 November. Bid dat genoeg vrywilligers sal aanmeld waar daar spesifieke behoeftes is soos pannekoekbakkers, toesighouers, deurwagte en pakkers by betaalpunte.
  • Baie huwelike in ons land is onder groot druk. Bid dat huweliksmaats bereid sal wees om oop te wees vir mekaar en om mekaar met groot respek en liefde te behandel.

5 November 2025

  • Bid vir die Kerkraadsvergadering 11 November. Bid dat elke kerkraadslid sal oop wees vir die leiding van die Gees.
  • Die Bybelgenootskap se vertalings- en Bybelverspreidingsprojekte. Bid vir die vertalers vir wysheid en kundigheid om die betekenis van die teks helder oor te bring in die nuwe taal.
  • Bid vir ds Willem en Jeanrie vir geskikte verblyf in Somerset-Wes.
  • Die inwoners van die Kaapse Vlakte wat so swaar kry onder bendegeweld en misdaad. Bid vir die polisie  in daardie area, vir hulle veiligheid en vir goeie leierskap.

29 Oktober 2025

  • Die pastore van die Christian Reformed Church van Sri Lanka wat werk in ‘n land waar Christene ver in die minderheid is. Bid vir goeie gesondheid, volharding en inspirasie vir hulle werk.  Bid dat baie Sri Lankane die Goeie Nuus sal hoor en aanneem.
  • Die kommissie van ondersoek na korrupsie in die Polisie. Bid dat hulle werk sal lei tot hervorming en heropbou van die Polisiediens sodat misdaad effektief bekamp kan word.
  • Bid vir Babette en die voorbereidings vir die Kerssangdiens.
  • Bejaardes onder finansiële druk weens stygende lewenskoste – bid vir voorsiening in elke behoefte.

22 Oktober 2025

  • Bid vir al die matrieks wat met hulle eindeksamen besig is. Bid veral vir leerlinge wie se studie-omstandighede baie ongunstig is.
  • Die Gemeentedinkskrum op 1 November saam met Ds Willem en Jeanri. Bid dat ons gemeente gelei sal word hoe om as deel van die liggaam van Christus op die pad vorentoe te groei.
  • Die bediening in ons tronke – bid vir elke persoon wat toegang het tot gevangenes om hulle met die Woord te bedien. Bid dat gevangenes sal ontdek dat Christus hulle vrymaak, ook van die trauma in hulle eie lewens wat tot misdadigheid gelei het.
  • Helderberguitreik Dienssentrum – Bid vir die projekspan, vrywilligers en donateurs wat elke week kos verskaf aan 7 000 volwassenes en kinders deur projekte in sewe gemeenskappe in en om Somerset-Wes.

15 Oktober 2025

  • Ons kantoor- en terreinpersoneel: bid vir energie, geesdrif en goeie gesondheid vir die besondere eise van die laaste kwartaal.  Bid ook vir Johan en Christine, dat hulle ook die energie sal hê om die besondere eise van die afsluiting van hulle onderskeie dienstye te hanteer.
  • Bid vir Polisiediens. Bid dat al die wanbestuur wat nou aan die lig kom op die ou end sal lei tot verandering sodat ons weer ‘n betroubare en toegewyde polisiemag sal hê.
  • Die skole wat hierdie week heropen het – bid vir skoolhoofde, personeel en leerders dat hulle toegerus sal word met geesdrif en toewyding. Bid ook vir veiligheid in skole.
  • Bid vir die Alphaprojek van Helderberguitreik. Die doel van die kursus is om mense te help in die ontdekking van en die groei in ‘n lewende verhouding met Jesus Christus.  Bid vir die projekspan vir hulle beplanning vir 2026.

1 Oktober 2025

  • Bid vir al die kinders wat in die komende skoolvakansie sonder toesig sal wees. Bid vir hulle beskerming.
  • Die personeel van die onkologiesentrum. Bid vir hulle emosionele welsyn en vir empatie met die pasiënte.
  • Bid vir ons land en ons regering. Bid vir almal, binne en buite die regering, wat werk om ‘n positiewe verskil te maak aan ons land se probleme.
  • Die burgemeester en Raad van die Kaapse metropool. Bid vir wysheid met besteding van die begroting en vir sukses in die voorkoming en bekamping van korrupsie.

28 September 2025

  • Die NG Kerk se bediening onder die Jode:  bid vir die werkers – vir wysheid en ywer, dat die saad op vrugbare grond sal val, vir hulle beskerming en dat daar nuwe geleenthede met Joodse jongmense sal oopgaan.
  • Helderberguitreik se Bybelverspreidingsprojek:  Bid vir genoeg voorsiening dat hulle Bybels kan verskaf aan elkeen wat dit nodig het en dat elke Bybel die ontvanger se hart sal aanraak.
  • Bid dat die uitsendings van Feba radio in die Oekraïne gelowiges sal versterk en bemoedig in ‘n baie moeilike tyd.  Bid ook vir die personeel, dat hulle sal vas staan in die geloof.
  • Die beplanning en voorbereidings vir die Kersmark.  Bid dat almal goed sal saamwerk en dat daar vir elke moontlike probleem ook ‘n oplossing sal wees.

17 September 2025

  • Bid vir die kandidaat wat die beroep na ons gemeente moet oorweeg. Bid vir sensitiwiteit vir die leiding van die Gees.
  • Helderberguitreik: Bid vir die Ahavahprojekspan wat mense met gestremdhede en hulle gesinne ondersteun.  Bid vir vrywilligers wat toegerus is vir die werk en ook vir genoeg fondse om te kan help waar dit nodig is.
  • Islamitiese vegters is besig met ‘n sistematiese veldtog van wrede aanvalle op Christengemeenskappe in die oostelike deel van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK). Bid dat die gelowiges sal vas staan in die geloof.  Bid dat die regering betrokke sal raak om die inwoners te beskerm.
  • Bid vir die mense wat gehuisves word in die Familieskuiling – dat hulle gehelp sal kan word om geskikte woonplek en werk te kry. Bid ook vir die personeel – vir liefde, geduld en wysheid.

10 September 2025

  • Ons dank die Here vir ‘n geseënde basaar en vir almal wat ‘n bydrae gelewer het.
  • Bid vir die kerkraadsvergadering op 16 September waar die beroepingslys aan die kerkraad voorgelê sal word. Bid dat die kerkraad en ook die voorkeurkandidaat sensitief sal wees vir die leiding van die Gees.
  • Bid vir ons land wat steier onder georganiseerde misdaad. Bid vir elke ondersoeker en fluitjieblaser wat nie van hulle lewens seker is nie en tog voortgaan met hulle werk. Bid vir hulle beskerming en bid dat die gety teen die midadigers sal draai. 
  • Helderberguitreik: Bid vir die Truth2Kids projekspan, vrywilligers en almal wat betrokke is by die Bybelklubs.  Bid dat die kinders die boodskap van die evangelie sal hoor en aanneem en dat dit hulle lewens sal verander.

3 September 2025

  • Ons verkeersowerhede – bid vir die politieke wil om die ignorering van verkeersreëls ernstig op te neem en doelgerig daarteen op te tree.
  • Bid vir die personeel van die intensiewe sorgeenhede van ons plaaslike hospitale. Bid vir toewyding en empatie met die pasiënte en naasbestaandes.
  • Helderberguitreik: Hemel-op-aarde projek wat vroeë kinderontwikkeling in arm gemeenskappe ondersteun met leermateriaal en opleiding vir opvoeders, ook oor hoe om te werk met kinders met spesiale behoeftes.  Bid vir genoeg borge vir die leermateriaal.  Bid ook dat die grondslag wat hulle lê vir die kinders ‘n goeie basis vir hulle skoolloopbaan sal gee.
  • Volgens Geopende Deure voer Islamitiese ekstremiste ‘n veldtog om die Christendom in sub-Sahara Afrika te vernietig. Meer as 16 miljoen Christene is reeds uit hulle huise verdryf.  Bid vir hierdie vervolgde Christene en ook vir Geopende Deure wat ondersteuning bied.

27 Augustus 2025

  • Die laaste basaarvoorbereidings. Bid vir elke konvenor en helper, dat reëlings en samewerking vlot en vrolik sal verloop en dat die basaar Saterdag baie goed ondersteun sal word.
  • Helderberguitreik: Bid vir die Grief Share en Divorce Care programme van die Harmonyprojek.  Bid vir elke deelnemer – dat die programme hulle sal help om hulle verlies te verwerk, emosionele genesing te vind en die lewe met geesdrif en vertroue aan te pak.
  • Die Regering van Nasionale Eenheid – bid dat daar samewerking tussen die partye sal wees om ons land se probleme op ‘n positiewe manier aan te pak. Bid vir ons President – dat hy homself en sy party eenkant toe sal skuif in die beste belang van die land en al sy mense.
  • Bid vir die lande wat geweldige oorstromings en lewensverlies beleef agv buitengewone moesonreëns.

20 Augustus 2025

  • Bid vir die kerkraadsvergadering op 26 Augustus waar die beroepingslys aan die kerkraad voorgelê sal word. Bid vir dat die kerkraad sensitief sal wees vir die leiding van die Gees.
  • Bid dat daar ‘n vredesproses in die Midde-Ooste aan die gang sal kom wat tot blywende vrede sal lei.
  • Die werk van Geopende Deure onder die vervolgde kerk oor die wêreld. Bid vir hulle veiligheid en dat hulle deur hulle werk vervolgde Christene sal bemoedig en geestelik help versterk.
  • Bid vir al die kerke en geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika – dat ons draers van hoop en ook ‘n sigbare morele kompas sal wees in ons land wat steier onder morele verval.

13 Augustus 2025

  • Bid vir die omgeewerkers wat met basaarlyste deur die gemeente gaan. Bid vir goedgesindheid van lidmate.
  • Bid vir die nuwe waarnemende Polisieminister. Bid vir wysheid in sy verhouding met die Polisieleierskap.  Bid dat hy ‘n positiewe verskil aan die stryd teen korrupsie in die Polisiediens sal maak.
  • In die noorde van Mosambiek is daar weer ernstige onrus en aanvalle deur Moslemekstremiste. Bid vir die meer as 60 000 mense wat uit hulle huise en dorpies moes vlug.  Bid dat die regering en buurlande bereid sal wees om saam te werk en doelgerig teen die invallers op te tree.
  • Slagoffers van geweldsmisdade wat aan post-traumatiese stres ly. Bid dat daar vir hulle hulp en genesing sal wees.

6 Augustus 2025

  • Laat ons die Here loof en dank vir sy troue liefde.
  • Bid vir werk van die Betesdabediening – bid vir elkeen wat met persone op die gebedslys skakel, vir liefde en empatie sodat hulle elkeen met wie hulle skakel sal bemoedig en verseker dat hulle nie alleen is nie.
  • Ons President – vir wysheid en bereidheid om sy taak om die land te lei met integriteit te doen met die beste belang van die land as hoogste prioriteit.
  • Bid dat die regte persoon na vore sal kom om die vakature by Truth2Kids te vul. Bid vir die projek se werk met kinders wat kwesbaar is – dat hulle die onvoorwaardelike liefde van Christus by die kinders sal tuisbring en so hulle lewens positief beïnvloed.

21 Julie 2025

  • Bid vir Johan en Christine – vir krag en geesdrif vir hierdie laaste skof.
  • Vir die basaarvoorbereidings – dat daar genoeg gewillige hande sal wees en dat dit in alles wat ons doen sal gaan om die eer van God en sy Koninkryk.
  • Die heropening van die skole – bid vir al die onderwyspersoneel vir inspirasie, toewyding en energie vir die nuwe kwartaal.
  • Bid dat die krisis in ons Polisiediens sal lei tot doelgerigte optrede om die Polisiediens skoon te maak en nuut op te bou om Suid-Afrika te dien.

25 Junie 2025

  • Almal wat gedurende die vakansie op die paaie sal wees. Bid dat motoriste verantwoordelik sal bestuur.  Bid vir die veiligheid van verkeersbeamptes en dat hulle nie nie sal toegee aan pogings om hulle om te koop nie.
  • Die onderwyspersoneel – bid dat hulle geestelik en fisies sal uitrus en goeie tyd met hulle gesinne sal deurbring.
  • Bid soos altyd vir kinders wat sonder toesig by die huis is. Bid vir hulle beskerming.  Bid vir elke instansie wat vakansieprogramme aanbied, dat dit vir die kinders opbouend sal wees.
  • Al die burgerlikes wat vasgevang is in konflikte – Oekraïne, Midde-Ooste en ander dele van die wêreld. Bid dat hommeltuie en missiele nie burgerlike teikens sal tref nie.

18 Junie 2025

  • Bid dat die situasie in die Midde-Ooste tussen Israel en Iran nie verder sal eskaleer nie.  Bid vir burgerlikes wat bedreig word.
  • Kinders in pleegsorg – bid vir hulle beskerming.  Bid dat pleegouers dit nie net sal doen ter wille van die onderhoudstoelaag nie maar omdat hulle lief is vir kinders.  Bid vir goeie toesig deur die instansie wat die plasings doen.
  • Ons Minister van Onderwys.  Bid vir wysheid om onderwysstelsel op ‘n pad te stuur wat leerders effektief sal voorberei vir werk na skool.  Bid dat al die onderwysvakbonde die kinders se toekoms eerste sal stel.
  • Die bestuur en verpleegpersoneel van Helderberghospitaal.  Bid vir goeie bestuur en toewyding by die verpleegpersoneel sodat pasiënte se belange eerste gestel sal word.  Bid vir die Ongevalle-eenheid wat dikwels onder baie groot druk moet werk.

11 Junie 2025

  • Beroepingsproses: Bid vir elkeen wat dit oorweeg om aansoek te doen.  Bid vir duidelike leiding van die Heilige Gees sodat die regte persoon aangewys sal word.
  • Bid vir huwelike wat weens baie faktore onder druk is. Bid vir volwassenheid, toegeeflikheid en deursettingsvermoë by huweliksmaats.  Bid ook vir kinders wat grootword in huise waar daar baie spanning is.
  • Dienende Hande se projekte in Junie: PJP-oggend op 27 Junie en die fondsinsamelingsete vir Huis Marie Louw op 20 Junie.  Bid dat die reëlings en voorbereidings voorspoedig sal verloop en dat albei geleenthede goed ondersteun sal word.
  • Al die instansies wat uitreik na haweloses in die koue wintermaande.

4 Junie 2025

  • Die aanstelling van ‘n nuwe matrone vir Huis Marie Louw.  Bid dat dit die regte persoon met die nodige bekwaamheid sal aansoek doen.
  • Bid vir Melanie Smit en die bestuur van Helderberguitreik.  Bid vir wyse besluitneming oor die verskillende projekte en vir goeie onderlinge verhoudings.
  • Personeel van die intensiewe sorg eenhede in ons hospitale.  Bid vir die krag en energie om elke dag die pasiënte met empatie en toewyding te versorg.
  • Bid vir die RNE.  Bid dat hulle werklik ‘n verskil sal maak aan die lewens van alle Suid-Afrikaners.  Bid dat die stryd teen korrupsie ‘n saak van erns sal wees.

28 Mei 2025

  • Bid vir Johan, vir energie en inspirasie vir die Pinkstertyd.  Bid dat ons as gemeente opnuut deur die Gees versterk en geïnspireer sal word.
  • Helderberguitreik:  Die VenSel Dagsorgsentrum in Nomzamo versorg ongeveer 75 kinders tussen 4 en 6 jaar oud terwyl hulle ouers werk.  Bid vir die personeel en die projekspan en ook vir fondse vir leermateriaal vir die Gr R en RR programme.
  • Bid dat die regering met ‘n doelgerigte plan vorendag sal kom om die bendegeweld op die Kaapse Vlakte en die res van die land te bestry.  Bid vir al die gemeenskappe wat besonder blootgestel is.
  • Bid vir Caritas, ons gemeente se barmhartigheidsdiens, vir Francine en al haar helpers.  Bid vir genoeg finansiële bydraes om in die behoeftes te voorsien.  Dank ons Vader vir hulle gewilligheid, liefde en geesdrif.

14 Mei 2025

  • Finansiële voorsiening vir aftree-oorde in die Helderberg. Bid vir vir suksesvolle fondsinsamelingspogings en ook vir almal wat daarby betrokke is.
  • Die werk van die Kersmarkbeplanningskomitee. Bid vir geesdrif en inspirasie en ook dat daar nuwe geskikte uitstallers na vore sal kom.
  • Die oorlog in Oekraïne – bid dat die pogings tot ‘n skietstilstand uiteindelik tot die einde van die oorlog sal lei.
  • Bid vir die regering en die Minister van Finansies – dat ‘n bevredigende begroting ingedien sal word wat in die beste belang van die land is.

30 April 2025

  • Elizma en haar span wat sorg vir die kuier- en teedrinkgeleentheid na kerk.  Bid dat dit vir hulle net soveel vreugde en seën sal bring soos vir ons wat aan die ontvangkant is.
  • Helderberg Uitreik se Uyavula leesprojek.  Die doel is om deur klasvoorlees en voorlees vir individuele kinders ‘n liefde vir lees en boeke by minderbevoorregte kinders te kweek en liefdevolle verhoudings te bou.  Bid vir genoeg voorlesers en ook dat ‘n geskikte projekleier gevind sal word.
  • Bid vir ons gemeente se beroepingsproses.  Bid vir die Pre-advieskommissie en ook vir die kandidate vir onderskeiding van God se wil.
  • Bid dat die Stad Kaapstad se bykomende spandering aan misdaadbekamping ‘n beduidende bydrae sal maak om die stad ‘n veiliger plek vir al sy inwoners te maak.  Bid ook vir die keuring en opleiding van nuwe metropolisiebeamptes.

23 April 2025

  • Helderberguitreik – Truth2Kidsprojek. Die projekspan bedryf saam met gemeenskapslede 43 Bybelklubs in verskillende skole en kleuterskole van Sir Lowryspas tot by Raithby en Macassar.  Bid vir die projekspan en al die betrokkenes vir inspirasie en geesdrif.  Bid dat kinders se lewens diep geraak sal word deur die boodskap van God se liefde.
  • Dienende Hande se voorbereidings vir die Herfsmark. Bid dat alles sal vlot verloop en dat dit goed ondersteun sal word.
  • Bid vir elke lid van ons Polisiediens. Hulle werk onder groot druk en word dikwels aan gevaar blootgestel.  Bid vir hulle beskerming en sielkundige en geestelike welsyn.
  • Al die baie kinders in ons land wat sonder ‘n vader- of moederfiguur grootword. Bid vir elke mentor wat onder die kinders werk om hulle te help om selfstandige volwassenes te word.

16 April 2025

  • Helderberguitreik – Sri Lanka Projek.  Die projek ondersteun drie pastore wat in verskillende dele van Sri Lanka werk.  Hulle werk met groot toewyding onder moeilike omstandighede waar hulle gesondheid daaronder ly, hulle kinders nie in die beste skole is nie en hulle vergoeding karig is.  Ons gemeente neem verantwoordelikheid vir een pastoor se maandelikse salaris uit geloofsofferbydraes.  Bid vir hierdie pastore en hulle gesinne, dat hulle in hulle geloof bemoedig en versterk sal word om te volhard.  Bid vir die mense onder wie hulle werk.
  • Bid vir kwesbare gemeenskappe waar misdaad en huishoudelike geweld dikwels oor vakansiedae toeneem weens veral drank- en middelmisbruik.  Bid veral vir die beskerming van kinders.
  • Almal in seniorsorg tehuise wat dikwels oor lang naweke en vakansietye nog meer eensaam en geïsoleerd voel as gewoonlik.
  • Die premier en die regering van die Wes-Kaap.  Bid vir wysheid en verantwoordelikheid in die besteding van die provinsiale begroting sodat fondse in die beste belang van al die inwoners bestee word.

9 April 2025

  • Bid vir al die skole in die Kom vir die komende skoolkwartaal.  Bid vir skoolhoofde vir wysheid en toewyding om hulle skole doeltreffend te bestuur.  Bid vir onderwysers wat dikwels ernstige probleme met dissipline het en ook ‘n veeleisende werklading moet hanteer.
  • Babette en die koor en almal betrokke by die Paassangdiens.  Bid dat die geleentheid ons harte sal rig op die komende herdenking van die wonder van die Paasgebeure.
  • Die mense in Mianmar en Thailand wat deur die aardbewing geraak is en van wie baie alles verloor het.  Bid vir genoeg en doeltreffende hulpverlening.  Bid veral vir Christene wat geraak is.  Hulle kry reeds swaar onder diskriminasie, veral van die kant van die militêre regering.
  • Ons regering – bid vir wysheid om die huidige spanning in die regering so te hanteer dat dit ons land op ‘n goeie pad vorentoe sal neem.

26 Maart 2025

  • Bid dat Johan en Christine ‘n voorspoedige vakansie sal hê en dat hulle uitgerus en met nuwe energie vir die komende kwartaal sal terugkom.
  • Al die kinders wat gedurende die vakansie sonder toesig sal wees omdat ouers werk. Bid vir hulle veiligheid en veral dat hulle bewaar sal word van mense wat hulle wil misbruik.
  • Helderberguitreik: Bid vir die Sir Lowry’s Pass Projek se kindervoeding- en tienerondersteuningsprogramme wat hulle saam met inwoners bedryf.  Bid vir genoeg finansiële bydraes en ook vir die vrywilligers en hulle medewerkers in die gemeenskap.
  • Bid vir veiligheid op die paaie gedurende die vakansie. Bid dat motoriste verantwoordelik sal bestuur en bid vir die wetstoepassers wat lang ure moet werk.  Bid vir hulle veiligheid.

19 Maart 2025

  • Bid vir Babette en die koor vir hulle voorbereiding vir die Paassangdiens.
  • Almal in ons land wat dapper genoeg is om hulle veiligheid op die spel te plaas om as fluitjieblasers en kampvegters vir geregtigheid op te tree. Bid dat die regering hulle beskerming sal ernstig opneem.  Bid dat misdadigers wat vir aanvalle op fluitjieblasers verantwoordelik is, vasgetrek en skuldig bevind sal word.
  • Helderberguitreik: Bid vir die projekspan en vrywilligers van die Seniorsorgprojek.  Hulle deel die liefde van Christus deur finansiële en emosionele ondersteuning te bied by verskillende tehuise in die Strand, Somerset-Wes en Macassar.  Hulle deel bv jaarliks Kersbokse met geskenke uit en reël sosiale geleenthede vir inwoners.
  • Almal op ons gebedslys, en ook vir hulle naastes en versorgers. Bid vir geduld, volharding en ‘n oorvloed liefde.

12 Maart 2025

  • Bid dat die Here sy kerk in Suid-Afrika sal toerus om ‘n instrument vir versoening en genesing te wees.
  • Pensioenarisse wat finansiële druk ervaar weens stygende pryse veral van verblyf. Bid vir voorsiening vir diegene wat meer bekostigbare verblyf moet vind.
  • Helderberg Uitreik: Hulp en Herbou (tevore Rampverligtingsfonds) verleen hulp aan alle sosio-ekonomiese gemeenskappe ten tyde van droogte, storms, vloede en brande.  Bid vir hulle fondsinsameling en vir almal wat deur hulle gehelp word.  Bid ook vir wysheid in die toewysing van hulp.
  • Bid dat ons regering en verkeersowerhede die huidige krisis op ons paaie ernstig sal opneem en padwaardigheidstoetse en verkeersreëls streng sal toepas. Bid vir die naasbestaandes en oorlewendes van die afgelope tyd se groot bus- en taxi-ongelukke.

5 Maart 2025

  • Helderberg Uitreik:  Bid vir Projek 17.   Hulle help om terapeute wat betrokke is by rehabilitasie van slagoffers van mensehandel op te lei in die “Running with Horses” program.  Die program is gemik op emosionele genesing en dissipelskap dmv die unieke verbintenis tussen perde en mense.  Bid dat baie slagoffers deur hierdie program op die pad van herstel en dissipelskap geplaas sal word.
  • Bid vir wêreldleiers.  Bid dat hulle met wysheid sal optree en na stabiliteit sal strewe.
  • Almal wat geraak word deur die onttrekking van Amerikaanse hulp aan MIV/VIGS en ander programme.  Bid dat werkbare alternatiewe gevind sal word om te verseker dat MIV/VIGS onder beheer bly.
  • Bid vir ons gemeente se beroepingsproses.  Bid vir die pre-advieskommissie en vir die persone wat vir die pos sal aansoek doen.

26 Februarie 2025

  • Ons is in die brandseisoen. Bid vir brandspanne wat lang ure moet werk Bid vir hulle veiligheid.  Bid dat mense nie deur agtelosigheid brande sal veroorsaak nie.
  • Helderberguitreik: Die Pêrelprojek bedryf ‘n aantal projekte in die Fauregemeenskap soos Bybelklubs vir kinders, ‘n sopkombuis vir kinders, kreatiewe klasse vir volwassenes wat hulle kan help om ‘n inkomste te genereer en meer.  Bid vir hulle projekleier, Amanda Ferreira, en vir elkeen wat ‘n spesifieke projek lei.  Bid dat hulle geseën sal wees met die liefde, energie en inisiatief om voort te gaan om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.
  • Die Suid-Afrikaanse soldate wat uit die DRK ontruim moet word. Bid dat die operasie suksesvol en sonder verdere beserings en lewensverlies sal geskied.
  • Bid vir die regering wat weer ‘n begroting moet probeer goedkeur. Bid dat wat ookal besluit word sal lei tot ekonomiese groei en werksgeleenthede.

19 Februarie 2025

  • Vir elke gemeentelid – dat die Heilige Gees ons elkeen sal oortuig:  Jy is ‘n besondere geliefde van God.
  • Bid vir die werk van die Betesdabediening, vir elkeen wat betrokke is en ook vir almal wat deur hulle bedien word.   Bid dat hulle betrokkenheid vir elke sieke sal help om nuwe moed te skep.
  • Helderberguitreik:  Mosambiek Evangelisasie is ‘n vennootskap tussen Helderberg Uitreik en NG gemeente Durbanville-Bergsig wat saam met Igreja Reformada em Mocambique (IRM) kerk werk om pastore van die IRM te ondersteun waar hulle as sendelinge in die distrikte Mute, Palma en Mavago in die noorde van Mosambiek werk.  Bid vir goeie verhoudings en vrug op die werk.
  • Bid vir die Wes-Kaapse departement van Gesondheid en die bestuur van hospitale.  Bid dat hulle met groot verantwoordelikheid met hulle begroting sal werk en geen korrupsie of diefstal sal duld nie sodat al die geld ten bate van die inwoners gebruik sal word.

12 Februarie 2025

  • Ons gemeenteprojek Caritas onder leiding van Fransien van Zyl. Bid vir haar gesondheid en vir elke lid van die span vir geesdrif om die werk met liefde te doen.  Bid ook vir finansiële voorsiening.
  • Helderberguitreik: André en Anna-Marie Thiart werk onder die Makwesprekers in die noorde van Mosambiek onder moeilike en gevaarlike omstandighede weens die konstante bedreiging van insurgente.  Hulle help inwoners om fisies selfversorgend te wees en doen evangelisasie, alles met die doel om Jesus Christus as Verlosser aan die mense bekend te stel.  Bid vir hulle veiligheid, goeie gesondheid, finansiële voorsiening en vir vrug op hulle werk.
  • Dank God vir Babette en vir haar spesiale bydrae tot ons gemeentelewe. Bid vir haar vir krag en geesdrif om elke dag met vreugde te leef.
  • Vir almal op die voorbiddingslys, en ook diegene wie se name nie verskyn nie wat operasies moet ondergaan, besig is om te herstel of behandeling moet kry. Bid dat elkeen die liefde en sorg van God sal ervaar.

5 Februarie 2025

  • Ons kantoor- en terreinpersoneel – Liesle, Braam, Sharon en Siya.  Bid vir geesdrif en goeie gesondheid om die werk te doen wat so noodsaaklik is om ons gemeentelewe glad te laat verloop.
  • Helderberguitreik:  KidsXpress publiseer lesmateriaal met PowerPoint aanbiedings, visuele hulpmiddels en liedjies wat deur Jeugpredikante en Jeugwerkers gebruik word om kinders met opwindende, Skrifgetroue inhoud te bedien.  Bid dat die boodskap ‘n blywende indruk op die kinders sal maak.
  • Bid vir die veiligheid van ons soldate in die ooste van die DRK en vir die naastebestaandes van die gesneuwelde soldate.  Bid vir suksesvolle vredesamesprekings om die konflik te beëindig.
  • Die premier en regering van die Wes-Kaap.  Bid vir wysheid om die provinsie goed te bestuur tot voordeel van al die inwoners.

29 Januarie 2025

  • Helderberguitreik: Die Kanga&Roo projek bied finansiële ondersteuning aan veiligheidsouers wat aanneembabas versorg tot hulle na die aanneemgesin gaan.  Bid vir Tania en Werner Schulz wat die projek koördineer, vir die veiligheidsouers en vir genoeg finansiële ondersteuning.
  • Al die projekte wat nog hierdie jaar vir Dienende Hande voorlê. Bid dat daar genoeg helpers sal wees om weer met geesdrif en goeie samewerking te dien soos in die verlede.  Dank God vir hulle groot bydrae tot ons gemeentelewe.
  • Bid vir die mense in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo wat al dekades lank ly onder geweld en burgeroorlog en wat nêrens het om heen te vlug nie. Bid dat daar ‘n oplossing gevind sal word.
  • Die personeel van die al die aftree- en versorgingsoorde in die Helderbergarea. Bid vir fisiese krag en vir toewyding aan hulle taak, dat hulle met liefde, respek en geduld teenoor die inwoners sal optree.

22 Januarie 2025

  • Ons gemeente se kategese – bid vir genoeg geesdriftige kategete.  Bid ook vir die kinders.  Bid dat wat hulle hoor hulle geestelik sal aanraak en dat hulle iets van die liefde van Christus sal ondervind.
  • Helderberguitreik:  Die Helderberg Hospitaal projek olv Lynette Jacobs skakel met Estie Vlok, die maatskaplike werker by die hospitaal oor spesifieke behoeftes,soos die Thula teddie breiprojek waarmee baie gemeentelede help, en versorgingspakkies vir pasiënte wat met leë hande by die hospitaal aankom.  Bid dat daar hierdie jaar ook goeie samewerking sal wees om pasiënte en personeel te ondersteun.
  • Die ampstermyn van die nuwe president van die VSA.  Bid vir goeie besluite wat sal bydra tot vrede en stabiliteit in die wêreld.
  • Die keuring en opleiding van polisierekrute.  Bid dat die regte persone gekeur sal word en dat hulle opleiding hulle sal voorberei om ‘n effektiewe bydrae te lewer tot misdaadbekamping en skuldigbevinding van aangeklaagdes, sodat ons land ‘n veiliger plek sal word vir al die inwoners.

15 Januarie 2025

  • Die nuwe skooljaar met besondere uitdagings soos begrotingstekorte en sny van onderwysposte.  Bid vir skoolhoofde en personeel wat nou ‘n ekstra las moet dra.  Bid vir hulle vir energie, geesdrif en toewyding.
  • Johan en Christine en hulle kinders, dat hierdie besondere jaar vir hulle geseënd en vol vreugde sal wees.
  • Bid dat daar hierdie jaar oplossings sal kom vir die oorlog in Oekraïne en die stryd in Gasa.  Bid vir vlugtelinge en ontworteldes wie se woonplekke verwoes is.
  • Ons regering – bid dat daar besluite geneem en uitgevoer sal word wat sal lei tot ekonomiese groei en minder werkloosheid.