Gebedsonderwerpe vir 2024

GEBEDSGROEP

Kom elke Woensdag om 9:00 by die kerk bymekaar.

Sien die week se onderwerpe hier onder.

Kontakpersoon:
Hannetjie Gericke, 021 – 852 1912 / o82 778 1510.

20 November 2024

  • Helderberguitreik: Die Hemel-op-Aardeprojek fokus op vroeë kinderontwikkeling en remediërende ingryping by Gr R en RR leerders en bemagtig ook die opvoeders met opvoedkundige programme om te verseker dat leerders skoolgereed is.  Bid vir die projekspan, die kleuterskole waar hulle betrokke is en vir voorsiening in hulle behoefte aan leerhulpmiddels.  Bid ook vir genoeg vrywilligers.
  • Die werk van die Bloedoortappingsdiens – bid vir genoeg skenkers om in die komende vakansietyd se verwagte verhoogde vraag na bloed te voorsien.
  • Kersmark: Bid spesiaal vir Braam en sy terreinspan wat vir lang ure hard moet werk om te sorg dat alles werk wat moet werk.  Bid vir geduld en vindingrykheid om probleme wat opduik te hanteer.
  • In Indonesië is daar groot godsdienstige onverdraagsaamheid tusse Christene en Moslems. Bid dat die groepe mekaar sal aanvaar en ruimte gee.  Bid vir bekeerlinge uit die Moslemgemeenskap wat deur hulle families verwerp word.

13 November 2024

  • Helderberguitreik:  Die werk van die Helderbergontwikkelingsentrum waar vrouens met baie min vaardighede opgelei word in Huisbestuur (kombuis-, skoonmaak-, was- en strykvaardighede), en ook persoonlike geldsake en lewensoriëntering.  Ander kursusse sluit in naaldwerk, kinderversorging, basiese noodhulp en volhoubare ontwikkeling (groente plant, brei, hekel).  Bid dat die opleiding ‘n positiewe verskil in die studente se lewens sal maak.  Bid vir die aanbieders.
  • Kersmark:  Bid vir die uitstallers se voorbereidings.  Bid ook vir genoeg geesdriftige vrywilligers om diens te doen.
  • Bid vir Babette en almal wat betrokke is by die Kerssangdiens.  Bid dat die voorbereidings glad sal verloop en dat die geleentheid ons harte sal voorberei vir die komende Christusfees.
  • Kerkleiers in Sentraal-Asië berig dat daar ‘n drastiese toename is in klopjagte op kerke en Christene se huise.  Hulle vra ons om te bid dat hulle in hulle geloof versterk sal word.

30 Oktober 2024

  • Die werk van Helderbergbabas.  Bid vir Tania en Werner Schulz vir wysheid en oorvloedige liefde om vir hierdie babas ‘n positiewe begin in hulle lewens te gee.  Bid ook vir die regte aanneemgesinne vir babas wat vir aanneming geplaas word.
  • Bid vir ons leerders wat besig is om voor te berei vir eksamens.  Bid dat hulle gemotiveer sal wees om met toewyding te werk.
  • Colombië is ‘n land aan die noordweskus van Suid-Amerika waar dwelmkartelle baie mag het. Kerkleiers in veral die kusgebied word geteiken en onder druk geplaas deur guerillagroepe wat die gebied beheer.  Bid vir selfonderhoudende pastore wat met moeite ‘n bestaan maak, en vir hulle gemeentes.  Bid vir hulle beskerming en dat hulle elke dag God se troue sorg sal ervaar.
  • Die Betesdaprojek: bid dat hulle belangstelling siek en verswakte gemeentelede sal bemoedig en ondersteun.  Bid dat hulle geseën sal word met toewyding en vreugde in die werk.

23 Oktober 2024

  • Helderberguitreik se projek vir Haweloses ondersteun die Tereoskool – ‘n geloofsgebaseerde, nie-winsgewende skool vir straatkinders en kwesbare kinders in die Helderbergkom wat nie deel van die formele skoolstelsel is nie.  Bid dat almal wat daar werk dit met liefde en toewyding sal doen en dat die kinders toegerus sal word om hulle plek in die samelewing in te neem.
  • Bid dat die matriekeksamen sonder grootskaalse eksamenbedrog afgehandel sal word.  Bid ook vir die owerhede wat sulke gevalle moet hanteer en skuldiges vervolg.
  • Al die baie getraumatiseerde slagoffers van misdaad in ons land.  Bid dat hulle ondersteuning sal ontvang wat hulle op die pad na genesing sal sit.  Bid dat dit alles op ‘n wonderlike wyse ook ten goede sal meewerk.
  • Haiti is ‘n chaotiese, gewelddadige land waar bendes in die hoofstad en groot dele van die land die oorhand het.  Bid dat die land bevry sal word van bendes en ‘n stabiele regering sal kry.  Bid ook vir sendelinge wie se lewens daagliks bedreig word.

16 Oktober 2024

  • Die Kersmark kom nader – bid vir Cecile en haar span se beplanning en voorbereidings.  Bid dat probleme wat opduik gou opgelos sal word en dat almal met ‘n positiewe gesindheid sal saamwerk.
  • Die werk van Helderberguitreik se Harmonyprojek.  Die span streef daarna om individue en hulle kinders wat geraak word deur dood, egskeiding of enkelouerskap te ondersteun en te mobiliseer om draers van Christus se hoop te wees.  Hulle bied twee maal per jaar die Grief Share en Divorce Care programme aan.  Mense vind hoop, maak vriende en leer om weer gelukkig te wees.  Bid vir die fasiliteerders en vir die kursusgangers.
  • Bid vir al die gebiede in die wêreld wat die afgelope tyd deur natuurrampe geteister is.  Bid dat politici en besluitnemers klimaatsverandering en die implikasies ernstig sal opneem.
  • In Noord-Korea is na raming ongeveer 250 000 Christene in strafkampe.  Bid vir hulle beskerming en dat die Gees hulle in hulle pynlike omstandighede sal versterk met moed en hoop.

9 Oktober 2024

  • Al ons gemeente se bedrywighede in die komende kwartaal, veral die strategiese beplanningsbyeenkoms op 19 Oktober.  Bid dat dit goed bygewoon sal word en ‘n positiewe en vrugbare uitkoms sal hê.
  • Die werk van Helderberguitreik se Elizayoprojek.  Werklose jongmense leer vaardighede om hulself te ontwikkel.  Onder andere bedryf hulle ‘n groentetuin en gee naaldwerkklasse.  Bid vir vrywilligers wat hulle tyd en vaardighede hiervoor beskikbaar stel.  Bid dat die werk sal vrug dra in die jongmense se lewens.
  • Bid dat ons regering erns sal maak met ekonomiese beleidsbesluite en implementering wat tot ekonomiese groei en werkskepping sal lei sodat mense met selfrespek kan leef en hulle nie tot misdaad hoef te wend om ‘n bestaan te maak nie.
  • Bid vir al die matrieks wat nou ernstig moet voorberei vir die eksamen.

18 September 2024

  • Bid vir almal in ons gemeente wat onlangs geliefdes verloor het.  Bid vir vrede en vertroosting.
  • Die werk van Helderberguitreik se Dienssentrum.  Hulle voorsien voedsel aan 15 projekte in Sir Lowryspas, Nomzamo, Lwandle, Strand, Somerset-Wes, Macassar, Croydon en Eersterivier.  Ses van die projekte voorsien pap voor skool en middagete na skool.  Bid vir genoeg donasies en helpers.  Bid ook vir die ontvangers van die hulp.
  • Vir beskerming van skoolkinders wat in die komende skoolvakansie sonder toesig sal wees omdat ouers moet werk.  Bid dat onderwysers ‘n geseënde rustyd sal geniet.
  • Vir almal wat na vlugtelinge in kampe regoor Afrika omsien – vir fisiese en emosionele krag om te volhard.

11 September 2024

  • Die Alpha Helderberg projek bied die Alphakursus aan en fokus op nie-kerkgangers en mense wat worstel met hulle geloof.  Bid vir die projekspan, en dat die deelnemers deur die kursus sal groei tot ‘n nuwe belewenis van God.
  • Die regte persoon/persone om betrokke te raak by die werksaamhede van Huis Marie Louw en om op die Beheerraad te dien.
  • Die dokters en verpleegpersoneel van al die hospitale in ons land.  Bid dat hulle met toewyding sal werk en hulle pasiënte met deernis en respek sal behandel.  Bid ook vir doeltreffende bestuur sodat korrupsie en diefstal bekamp sal word.
  • Teen die einde van 2022 was daar 16,2 miljoen Christene van regoor sub-Sahara Afrika wat weens aanvalle en ander bedreigings van hulle tuistes moes vlug.  Hulle bevind hulle dikwels in oorvol kampe met swak higiëne en voedseltekorte en geen skoon water. Bid vir beter lewensomstandighede en dat hierdie kampe plekke van veiligheid sal wees waar Christene geloofsgemeenskap kan beoefen en mekaar kan opbou en versterk.

4 September 2024

  • Helderberguitreik se Bybelverspreidingsprojek. Bid dat elke Bybel by die regte persoon sal uitkom, lewens sal verander en sal vertroos en bemoedig.
  • Die nuwe Hoofregter, Mandisa Maya. Bid vir wysheid om die uitdagings soos te min regters, veiligheid van regters, administrasie van die regbank, verval van infrastruktuur en baie meer te prioritiseer sodat die regstelsel onafhanklik en optimaal kan funksioneer.
  • Bid vir alle skoolhoofde en onderwyspersoneel wat besnoeiing van poste moet hanteer. Bid vir ‘n oplossing dat dit nie sal nodig wees om onderwysers te laat gaan nie, veral in die lig van klasse wat reeds oorvol is.
  • Almal betrokke by Dienende Hande – dank God vir hulle ywer en toewyding en bid vir die nodige energie vir die laaste deel van die jaar se bedrywighede. Bid ook vir goeie ondersteuning van hulle fondsinsamelingsprojekte.

28 Augustus 2024

  • Helderberguitreik – Truth2Kids. Truth2 Kids bied 43 Bybelklubs aan by skole en kleuterskole van Sir Lowry’s Pas tot by Macassar en ook plekke in die gemeenskap.  Hulle bied ook jaarliks ‘n kamp aan in Kleinmond.  Hulle getuig van kinders wat op laerskool by Bybelklubs begin het, nou reeds matriek geskryf het wat die Here getrou volg en jonger kinders inspireer om reg te kies.  Bid vir die projekspan en al die betrokkenes.  Bid dat die Woord baie kinders se lewenskoers sal verander.
  • Bid vir ons basaar – dat almal met positief en met geesdrif sal saamwerk en ‘n getuienis van liefde en goedgesindheid sal uitleef. Bid ook dat daar genoeg ondersteuners sal wees.
  • Bid vir die regering. Bid dat elke minister met toewyding sal werk om sy/haar departement doeltreffend te bestuur en korrupsievrye dienslewering eerste te stel.

21 Augustus 2024

  • Die kerkraadsvergadering Dinsdagaand – bid dat die Gees die vergadering sal lei om goeie besluite te neem wat die Koninkryk sal dien.
  • Bid vir ‘n einde aan die burgeroorlog in Soedan se Darfoerstreek. Noodvoorrade kan nie vlugtelingkampe bereik nie en daar heers ‘n kritieke hongersnood.  Kinders ly die ergste.
  • Helderberguitreik – Ahavahprojek (Gestremdhede): Hierdie projek ondersteun tans die Newlandgesin wie se seuntjie gebore is met ‘n seldsame genetiese siekte wat lewenslank konstante mediese ingryping, verskeie vorms van terapie en dag- en nagversorging verg. Die projek dra ook by tot die koste van sy arbeidsterapie.  Bid ook vir die Newlandgesin en vir alle gesinne met ‘n kind met gestremdhede.
  • Vir gemeentelede met kommer in die harte oor die welsyn van kinders en kleinkinders.

14 Augustus 2024

  • Braam, Liesle, Philemon en Sharon en hulle gesinne – vir goeie gesondheid, geduld en vreugde in hulle werk.
  • Bid dat die regering die misdaadsituasie met erns sal aanpak.  In die Wes-Kaap alleen is daar 1 555 vakatures vir speurders.  Bid dat die regering goeie opleiding en meer polisiebeamptes ‘n prioriteit sal maak.
  • Die Agape Medies projek van Helderberguitreik.  Hulle voorsien gratis mediese dienste aan behoeftige pasiënte met die samewerking van Cure Daghospitaal en dokters wat hulle dienste gratis beskikbaar stel.  Bid vir die projekspan en hulle medewerkers vir toewyding en inspirasie.
  • Bid vir Christene in Noord-Korea wat nie openlik kan aanbid nie.  Bid vir hulle veiligheid en dat hulle moed sal hou.  Bid ook dat hulle lewens ‘n getuienis teenoor nie-Christene sal  wees.

7 Augustus 2024

  • Ons gemeente se basaarpoging – bid vir meer as genoeg bydraes en helpers.  Bid vir al die konvenors, dat hulle goeie samewerking van gemeentelede sal ontvang.
  • Bid dat die pogings om ‘n skietstaking in die Gasakonflik te bemiddel op koers sal bly ten spyte van die jongste eskalasie van konflik.
  • Alle kinders wat verwaarloos en mishandel word.  Bid dat daar vir hulle uitkoms sal wees, veral vir terapie om die emosionele letsels te genees.
  • Die stryd teen bendegeweld – bid vir die Polisie en die Vervolgingsgesag, dat hulle effektiewe ondersoekwerk sal doen sodat bendeleiers skuldig bevind en gevonnis sal word.

31 Julie 2024

  • Baie bejaarders in ons area kry baie swaar as gevolg van hoë lewenskoste en beperkte inkomste. Bid vir al die instansies wat ondersteuning bied – vir genoeg bronne en helpers.
  • Die Bestuursgroepvergadering Maandag – bid vir geesdrif en goeie samewerking en dat besluite in die beste belang van die Koninkryk en die gemeente sal wees.
  • Bid dat die regering die behoud van die onafhanklikheid en intergriteit van ons regbank as prioriteit sal stel. Bid vir ons hoofregter en die Regterlike Dienskommissie wat verantwoordelik is vir aanstelling van en toesig oor regters.
  • Bid vir die stryd teen Islamitiese ekstremiste in Afrika wat mense ontvoer vir ‘n losprys of om as vegters te gebruik.

24 Julie 2024

  • Die beplanning en voorbereidings vir die Kersmark. Bid vir Cecile en Tanja en hulle helpers vir geesdrif en energie en vir wysheid om probleme wat opduik op te los.
  • Die nuwe Minister van Polisie en die bestuur van die polisie. Bid dat hulle goed sal saamwerk en doelgerig sal werk om korrupsie uit te roei en ‘n kultuur van diens en eerbaarheid in die polisiediens te vestig.
  • Bid vir ekonomiese beleid wat  werkskepping sal stimuleer sodat werklose mense met menswaardigheid vir hulleself kan sorg.
  • Bid vir die werk van Helderberg Uitreik Pêrelprojek. Deur hulle ekobaksteen-indiensnemingsprojek verskaf hulle werk en doen terselfdertyd belangrike herwinningswerk.

17 Julie 2024

  • Bid vir ons kategese en gesinsdienste.  Bid vir Werner wat die leiding neem, en vir elke kategeet, dat hulle geesdrif en liefde aansteeklik sal werk op die kinders en dat die kinders oop sal wees vir die evangelieboodskap.
  • Die nuwe minister van onderwys – dat sy met toewyding die leiding sal neem, na kundige raad sal luister en wyse besluite sal neem om die gehalte van onderwys in alle skole te verbeter.
  • Al die burgerlikes wat ly onder die konflik in Gasa.  Bid vir die veiligheid van noodlenigingspanne en vir ‘n einde aan die vyandelikhede.
  • Die Christengemeentes in Sri Lanka en hulle pastore.  Bid dat hulle lewens ‘n positiewe getuienis in hulle gemeenskappe sal wees.

10 Julie 2024

  • Bid vir almal wat ernstig geaffekteer word deur die stormagtige winterweer, veral haweloses en mense wie se woonstrukture verwoes is. Bid vir hulpverleners en Kaapstad se rampbestuur.
  • Skoolhoofde en onderwysers vir geesdrif en energie vir die nuwe kwartaal. Bid ook vir skole waar daar stormskade is, dat dit gou herstel sal word sodat bedrywighede normaal kan voortgaan.
  • Die vervolgde kerk wêreldwyd en vir gelowiges wat onder geweldige druk is om Christus te verloën.  Bid vir die werk van Geopende Deure wat gelowiges ondersteun in lande waar daar onderdrukking en vervolging is.
  • Vir ons regering – dat partye en politici die welsyn van die land en die mense eerste sal stel.

8 Mei 2024

  • Caritas – vir Francien en haar helpers vir energie en geesdrif vir hulle taak en ook vir genoeg fondse om in die behoefte te voorsien.  Bid ook vir elke gesin wat gehelp word.  
  • Alle vroue en kinders wat slagoffers is van oorlog – in Oekraïne, Gasa, Soedan en op ander plekke in die wêreld.  Bid vir hulle beskerming en voorsiening in hulle behoeftes. Bid vir ‘n einde aan vyandelikhede.
  • Vir ‘n vreedsame verkiesing en dat die uitslag oral aanvaar sal word.  Bid ook nou al vir die regering wat na die verkiesing aan bewind sal wees.
  • Bid vir die beskerming van polisielede en van die verkeerspolisie in die uitvoering van hulle pligte.

1 Mei 2024

  • As gevolg van El Ninõ het die somerreënvalgebiede in Suider-Afrika ondergemiddelde reën gekry en word bestaansboere in Zambië, Zimbabwe en die suide van Mosambiek deur hongersnood in die gesig gestaar. Daar is ook uitbrekings van cholera weens watertekorte.  Bid vir almal wat geraak word, en ook vir hulproganisasies wat uitreik.
  • Die komende Pinkster – bid dat ons deur die Gees vernuwe en in ons geloofsvertroue versterk sal word.
  • Die nuwe komitee vir Betesda onder leiding van Anne du Plessis. Bid dat hulle goed sal saamwerk en tot ‘n seën sal wees vir elkeen met wie hulle in kontak kom.
  • Werk onder gevangenes – bid vir elke instansie en persoon wat betrokke is by hierdie werk. Bid vir toewyding en deursettingsvermoë.  Bid dat die vrug van hulle werk sigbaar sal word in veranderde lewens.

24 April 2024

  • Die bestuur en personeel van Helderberghospitaal. Dank God dat ons nog ‘n staatshospitaal in die Helderberg het wat goed funksioneer.
  • Die ad hoc-kommissie wat besig is met ‘n gemeentestudie met die oog op die samestelling van ‘n leraarsprofiel vir ‘n moontlike opvolger vir Johan. Bid vir die leiding van die Gees en ‘n gesindheid van afhanklikheid. 
  • Bid vir alkohol- en middelafhanklikes en hulle gesinne. Bid veral vir elkeen wat by die punt gekom het waar hulle besef hulle het hulp nodig.  Bid vir die werk van instansies soos AA en Ramot wat help met rehabilitasie en ondersteuning.
  • Bid vir die OVK se voorbereidings vir die verkiesing. Bid dat die reëlings glad sal verloop en dat daar geen twyfel oor die intergriteit van die verkiesing sal wees nie.

10 April 2024

  • Ons gemeente se kategese.  Bid vir elke kategeet, dat hulle iets van die liefde van Christus aan die kinders sal oordra.  Bid dat die evangelie sal grondvat in die kinders se harte.
  • Die komende Herfsmark.  Bid vir almal wat betrokke is – vir goeie samewerking en dat daar ook goeie ondersteuning sal wees.
  • Bid vir die regering van die Wes-Kaap se pogings om werksgeleenthede te skep sodat meer mense met waardigheid vir hulself en hulle gesinne kan sorg.
  • Al die ontredderde kinders van Gasa wie se lewens heeltemaal deur die oorlog ontwrig is – wat huise en ouers verloor het en wat beseer is in die bombardering wat nog steeds voortgaan.

3 April 2024

  • Bid vir al die skoolhoofde en onderwysers van die skole in die Kom. Bid vir energie en lewensvreugde en dat hulle die leerders sal inspireer om die beste te doen en te wees wat hulle kan.
  • Almal betrokke by Dienende Hande. Bid dat hulle met plesier en geesdrif sal saamwerk en dat hulle projekte ‘n groot sukses sal wees.
  • Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis en sy komiteelede. Bid vir wysheid om die probleme wat oor hulle pad kom te hanteer en die stad te bestuur in die beste belang van die inwoners.
  • Mense van die Kaapse Vlakte wat geteister word deur misdaad en bendegeweld. Bid vir die polisie wat wet en orde moet handhaaf en vir almal wat opheffingswerk doen en maatskaplike ondersteuning gee.

13 Maart 2024

  • Vir die komende skoolvakansie – dat padgebruikers verantwoordelik sal optree.  Bid ook vir die verkeerspersoneel, vir beskerming en dat hulle met toewyding hulle werk sal doen.
  • Vir die NG Kerk – dat ons almal sal bid om die dinge waarop dit werklik aankom te onderskei en eerlik sal streef om mekaar in liefde te aanvaar en met ‘n oop gemoed en sonder oordeel na mekaar te luister.
  • Vir die veiligheid van skoolkinders wat gedurende die skoolvakansie sonder behoorlike toesig sal wees.  Bid dat hulle bewaar sal word van kwaadwillige mense wat hulle wil misbruik.
  • Bid vir die beskerming van Polisie en Metropolisie wat dikwels geteiken word vir hulle vuurwapens.

6 Maart 2024

  • Ons land se maatskaplike werkers is oorlaai weens ‘n groot tekort aan poste by die staat. Mense in gebiede waar juis groot maatskaplike probleme is, kry dus nie aandag nie.  Bid vir die groot maatskaplike nood in ons land en veral vir oorwerkte maatskaplike werkers. 
  • Bid vir ‘n skietstilstand in Gasa sodat doeltreffende humanitêre hulp gelewer kan word. Bid vir almal wat betrokke is by onderhandelings vir ‘n skietstaking.
  • Munisipaliteite waar inwoners soms vir weke en selfs maande sonder water is. Bid dat die munisipaliteite bereid sal wees om saam te werk met privaat- en burgerlike instansies wat hulp aanbied.
  • Bid vir die herstel van Transnet en van ons spoorweë sodat vrag van die pad na die spoor kan skuif. Bid vir almal wat werk Transnet weer op koers te kry.

28 Februarie 2024

  • Die inwoners van die Cabo Delgadoprovinsie in die noorde van Mosambiek wat al die afgelope tien jaar daagliks in vrees leef vir aanvalle deur ISIS. Bid vir gelowiges, dat hulle juis in die moeilike omstandighede hulleself met volle vertroue in God se hande sal oorgee.
  • Huwelike wat onder druk is. Bid dat huweliksmaats bereid sal wees om oop te wees vir mekaar en mekaar met groot respek te behandel.
  • Bid vir die kinders van ons land, veral in die arm gemeenskappe waar behoorlike toesig dikwels onmoontlik is. Bid dat hulle bewaar sal word van mense wat hulle wil uitbuit en misbruik.
  • Die komende verkiesing – bid dat ons ‘n regering sal kry wat die wil sal hê en in staat sal wees om omstandighede in ons land vir al die inwoners te verbeter.

21 Februarie 2024

  • Helderberguitreik se Sri Lankaprojek befonds drie evangeliste se vergoeding, programme en toerusting.  Bid vir projekspanlede wat kan help met bemarking en fondsinsameling en vir die beskerming van die Christengemeentes in Sri Lanka.
  • Baie skole in ons land het gevaarlik en gewelddadig geword.  Bid vir die veiligheid van onderwysers en leerders.  Bid vir ons samelewing waar geweld dikwels as eerste oplossing gesien word.
  • Die Onafhanklike Verkiesingskommissie se voorbereidings vir die komende verkiesing.  Bid dat hulle hulle werk met doeltreffendheid en integriteit sal doen en sal waak oor hulle onafhanklikheid.
  • Kerkraadsvergadering Dinsdagaand.  Bid dat dit in ‘n goeie gees sal geskied en elkeen die belang van die gemeente en die Koninkryk voorop sal stel.

14 Februarie 2024

  • Bid vir die verpleegpersoneel in ons hospitale. Bid dat hulle werk vir hulle ‘n roeping sal wees, en dat hulle altyd in die beste belang van die pasiënte sal optree.  Bid vir geduld, fisiese gesondheid en empatie met die pasiënte.
  • Die werk van die Bloeddiens. Bid vir genoeg skenkers,  veral ook van skaars bloedgroepe, en vir genoeg vrywilligers.
  • Vir almal wat werk met die rehabilitasie van middelafhanklikes. Bid ook vir die verslaafdes – dat hulle hulle probleem sal erken en sal volhard met behandeling.
  • Bid vir Babette en die beplanning van die Paassangdiens. Bid ook vir die koor en die nodige helpers.

7 Februarie 2024

  • Dat ons oë en harte oop sal wees vir God se oorweldigende goedheid en liefde.
  • Vir Johan – dat hy genoeg tyd sal vind om stil te word en oop te bly vir die leiding en bemoediging van die Heilige Gees. 
  • Bid vir die premier en regering van die Wes-Kaap. Bid vir skoon regering en vir wysheid in die toewysing van fondse om die lewensgehalte van die inwoners voortdurend te verbeter.
  • Vir elke bejaarde – dat hulle die verseker sal wees van God se troue sorg. Bid ook vir versorgers – vir krag en vir geduld, liefde en respek teenoor die bejaardes.

31 Januarie 2024

  • Bid vir al die brandbestryders wat ‘n besonder veeleisende brandseisoen beleef. Bid dat mense verantwoordelik met vuur sal omgaan en veral nie opsetlik brande sal stig nie.
  • Vir Francien wat nou die leiding neem by Caritas en vir haar helpers. Bid dat die hulp wat hulle gee tot seën sal wees en sal help om mense op hulle voete te kry.  Bid ook vir hulle fondsinsamelings.
  • Bid dat kieserregistrasie hierdie naweek vlot sal verloop en dat baie stemgeregtigdes sal registreer.
  • Bid vir humanitêre hulp aan die vrouens, kinders en bejaardes van Gasa wat alles verloor het en geweldige trauma beleef. Bid vir ‘n oplossing wat die verskriklike nood sal verlig.

24 Januarie 2024

  • Bid vir die Bestuursgroepvergadering Maandag. Bid vir al die lede, dat hulle die nodige energie en geesdrif sal hê vir die jaar wat voorlê.  Bid vir wysheid met besluitneming.
  • Die kategese – bid vir elke kategeet, dat hulle toegerus sal word met liefde en insig om die boodskap van God se liefde aan die kinders oor te dra. Bid dat die Woord in die kinders se harte sal grondvat.
  • Die burgemeester en bestuur van die Kaapse metropool. Bid vir goeie regering en doeltreffende dienslewering.  Bid dat alle gevalle van korrupsie vinnig en doeltreffend hanteer sal word.
  • Vir die Polisie – dank die Here vir elke polisielid wat met toewyding en pligsgetrouheid dien. Bid vir beskerming en ook vir die fisiese en geestelike gesondheid van lid.