Hierdie blad bevat kort artikels oor verskillende projekte wat nie bestuur word deur een van die deurlopende komitees nie.
Die Tereoskool is tydens die afgelope winter se storms ‘n paar keer oorstroom deur die Lourensrivier, en groot skade, o.a. aan hul skoolboeke, is aangerig.
‘n Beroep om hulp vir die skool het o.a. by een van ons Omgee-lede uitgekom. Terselfdertyd het sy by ‘n vriendin gehoor van ‘n privaat skooltjie (buite ons dorp) wat sluit, en baie skoolboeke en ander bruikbare artikels beskikbaar het. Dié is toe by ons kerkkantoor afgelewer, en dit was my voorreg om twee vragte by Tereo te gaan aflewer, waar dit met groot dank en waardering ontvang is.
Nog ‘n geval van ‘n pragtige Omgeeskenking afkomstig van iemand buite die gemeente!
W.T. (Augustus 2023).
Sien gerus ook Tereoskool se eie webwerf.
Dit het alles begin met ‘n oproep vanaf die Kerkkantoor oor 50 gebreide poppies wat daar afgegee is en nog hare en gsiggies moes kry. Hulp is gevra en dadelik was 7 dames bereid om te help. Gou-gou was die poppies klaar (elkeen met haar eie voorkoms en persoonlikheid). Die dames het groot pret gehad en dadelik het sommige poppies byname gekry volgens hulle voorkoms.
Na baie oorweging het die dames besluit om die poppies persoonlik aan die kinders by die kinderhuis te gaan oorhandig. Maar ons Hemelse Vader het onverwags baie meer vir ons voorsien. By die Kerkkantoor is daar vir ons die pragtigste serpe en musse gegee. Daar was egter nie genoeg serpe en musse vir die groter kinders nie. Weereens is hulp gevra en kort voor lank was daar ook genoeg serpe en musse. Iemand het ook ‘n sak vol kinderklere gegee en 2 persone het kontant donasies gegee. Met die donasies kon ons vir elke kindjie ‘n pakkie eetgoedjies opmaak. Soveel vrywilligers om die Here op dié wyse te dien.
Tydens die uitstappie was dit duidelik om te sien hoe hierdie kinders smag na liefde en drukkies – iets wat die dames mildelik uitgedeel het. Dit was moeilik om emosies onder beheer te hou by die besef hierdie kinders ken nie moederliefde en die opset van ‘n normale gesin nie. Soos iemand opgemerk het oor die kleinste seuntjie – “hy moes eintlik nog op sy ma se skoot gesit het”. Humor was daar egter ook. ‘n Seuntjie stap saam met my die trappe op en vra “tannie ouma is jy 100 jaar?” Ek bars uit van die lag en sê nee dan sou ek nie die trappe saam met jou kon klim nie (maar in my binneste dink ek 100 jaar!!?? Ek sal dadelik iets aan my “looks” moet doen).
Die kindertjies was baie dankbaar vir hulle poppies, musse, serpe en eetgoedjies. Dit was ‘n baie leersame ervaring en voorwaar ‘n dag om weereens jou seëninge te tel. Alle eer aan Ons Hemelse Vader.
‘n Reuse bydrae uit ‘n onverwagse oord, na aanleiding van die onlangse oproep om hulp vir Huis Marie Louw.
Pieter & Josephine de Leeuw den Bouter het in September 2021 begin met ‘n projek vanuit ons gemeente om omgeebokse met produkte vir die mense van Loeriesfontein, nog ‘n gemeenskap waar mens en dier swaar kry as gevolg van die voortslepende droogte.
Lees gerus:
b: Opvolg deur Josephine (23 September 2021)
c: Kort verslag (17 Oktober 2021)
..