Ons Orrel

'n Kort geskiedenis

Bronne:
(a) Nederduitse Gereformeerde Gemeente Somerset-Wes 1819 – 1969;
H.C. Hopkins (1969)
(b) Die eerste 150 jaar;
J P du Plessis (2005) {Uittreksels uit (a)}

Eerste orrel

Die gemeente het vanaf die begin ‘n orrel gehad. (Dit is iets besonders, aangesien die gemeente Kaapstad 80 jaar moes wag en ander gemeentes selfs langer.)
Die orrel is uit Engeland bestel en is reeds teen Junie 1819 in die historiese kerkgebou in Kerkstraat opgerig deur ene E K Green, wat dit  beskryf as:
A Church Organ with Mahog(an)y Gothic Front and case 13 Feet high with guilt pipes in front, 10 Stops and a Swell”.

Aanvanklik moes ‘n slaaf die blaasbalk trek, en later is water uit die leivoor gepomp om die orrel te dryf. Volgens oorlewering moes die koster soms tydens die diens uithardloop om die sluis oop te trek!

Tweede orrel

In 1878 word besluit om ‘n nuwe orrel aan te skaf. Nadat die susters en hul “werkgezelschappen” basaar gehou het ter stywing van die orrelfonds, kon dié ideaal verwesenlik word, en is die 2de orrel, gebou deur WJ Hadfield van  Kaapstad, op 15 Mei 1879 ingewy.

Hierdie orrel het egter nie aan die verwagtinge voldoen nie, en met die koms van die nuwe eeu is besluit om ‘n groter orrel te laat installeer.

Derde orrel

Op Saterdag 3 September 1904 is die pragtige nuwe orrel (asook die nuwe preekstoel) in gebruik geneem, met ‘n orreluitvoering onder leiding van prof. F. W. Jannasch van Stellenbosch.

Hierdie  orrel met sy 26 registers, 1586 pype, is op die “sleeplade”-stelsel  gemonteer en het  twee elektriese motors vir krag aan die  blaasbalke gehad.

Nuwe standplaas

Nadat die nuwe kergebou in Andries Pretoriusstraat in 1941 voltooi is, is die orrel in Maart 1941 daarheen verskuif deur  Cooper, Gill en Tomkins.

Restourasie van die orrel, 2018

As deel van die voorbereidings vir die Twee-eeuefees is die orrel gedurende 2018 geheel en al uitmekaargehaal, skoongemaak en weer ingestem, deur dieselfde firma wat die 3de orrel in 1941 na die huidige kerk verskuif het!

Inwyding van die orrel, 2019

Sondagmiddag 28 April 2019 het die Moederkerk en omgewing weergalm met die pragtige orrelklanke uit die onlangs gerestoureerde orrel. Dit was een van die spoggeleenthede op die Twee-eeuefeesprogram, met die bekende Zorada Temmingh van Stellenbosch voor die orrel.

 

Zorada is verwelkom en voorgestel deur Ds Willem Doman, die voorsitter van die Feeskomitee. Die kunstige ruiker het pragtig bygedra tot die atmosfeer.

Hierna het sy aan die redelik volgepakte kerk verduidelik hoe sy improviseer (en nie komponeer nie), waarna sy haar improvisasie tegnieke gedemonstreer het met die uitvoering van ‘n aantal kerkgesange. Voorwaar ‘n ondervinding om te beleef, soos bewys deur die staande applous aan die einde.

 

Die ervaring is visueel baie effektief versterk deur die beeld wat op die skerm voor in die kerk geprojekteer is, afkomstig van ‘n kamera wat op die orrel ingestel was. Hierdeur kon ‘n mens gelyktydig hoor en sien hoe die vingers vlieg oor die klawers terwyl die voete die basnote speel.