Die afgelope 8 jaar of so is daar vele veranderinge aangebring in die kerkgebou, die saal en op die omliggende terrein.
Reeds in Mei 2015 het ‘n Projekspan o.l.v. Koos Swart begin met die opknapping en verbetering van die infrastruktuur, met die oog op die Twee-eeuefees in 2019.
As gevolg hiervan was daar vele fondsinsamelingsprojekte wat ‘n heerlike samehorigheidsgevoel geskep het onder die gemeentelede wat betrokke was.
Na 2019 is voortgegaan met verbeterings aan die infrastruktuur.
Hieronder volg ‘n kort verslag oor sommige van die meer opsigtelike projekte.
W.T. 3/8/2022
Die gedenktuin se opknapping is een van die onlangs voltooide projekte van die 2019 Projekspan. Aanvanklik gedryf deur Jack en Braam, en later voltooi deur Koos Swart, is die plaveisel gelê en die oppervlak met klippies bedek.
Celda Gouws se kundige insette het gesorg vir die netjiese uitleg en die potplante. Ter wille van eenvormigheid moet die aluminium blompotjies, wat by die kerkkantoor verkrygbaar is, gebruik word.
Uit die Afkondigings, 12 Februarie 2017
Voor 2017 was een van die besonder sigbare kenmerke van die kerkterrein die reuse palmbome.
Vallende takke het egter ‘n risiko begin raak, en in Februarie 2017 is die twee bome in die systraat voor die saal afgekap, en die tuintjie vervang met plaveisel vir parkering.
In September is die ry palmbome voor die kerk verwyder en die vorige tuin vervang met plaveisel vir parkering.
Aan die begin van 2018 moes die gemeentesang vir ‘n paar maande sonder die orrel klaarkom terwyl die orrel gerestoureer is.
As deel van die Twee-eeuefeesprogram is die nuwe orrel op 28 April 2019 ingewy met ‘n luisterryke konsert deur Zorada Temmingh
‘n Pragtige gedenkplaat is deur ds Johan van Niekerk onthul, teen die kerk se muur oorkant die saal.
Die kerk se vloer is afgeskuur en geseël toe al die banke geskuif moes word omdat die binne-ruimte van die kerk geverf is.
‘n Nuwe Gesinskamer is in die agterste deel van die kerk ingerig. Deursigte glas skei hierdie deel van die res van die kerkruimte, sodat gesinne met klein kinders nou ingesluit is by die res van die gemeentelede tydens die erediens.
‘n Besonder positiewe nadraai van die Covid-epidemie was die installering van die nodige apparaat om dienste uit die kerk lewendig te stroom.
Die eerste foto wys hoe die vier kameras se beeld vermeng word.
Die tweede fotos wys twee van die vier kameras.
Die derde foto wys die twee rekenaarskerms wat onderskeidelik vir die beeld- en klankmeng gebruik word, asook die klankbank waarmee die klank van die kerkgebou se klankstels en addisionele, strategies geplaasde mikrofone, gemeng word.
Die ou stoep langs die saal is afgebreek en ‘n nuwe onderdak ruimte tussen die kombuis en Patmos is geskep.
‘n Kompetisie is uitgeskryf om ‘n naam vir hierdie ruimte te kry, en Hester Loots se voorstel van Kosmos is aanvaar.
Tydens die feesnaweek in Augustus 2019 is Kosmos amptelik ingewy deur ds. Willem Doman.
Vroeg in 2020 is begin met die her-inrigting van die strukture om die saal. Die eerste van hierdie projekte was die verskuiwing van die kantoor, met die nuwe kantoor se ingang vanuit die systraat (St Jamesstraat).
Die toonbank in die “ou” kantoor in 2017, gelaai met “Krismisbokse”.
Die ingang uit St Jamesstraat.
Die nuwe kantoor –>
Die ou muur voor die saal, langs Andries Pretoriusstraat, is herbou
en die grasperk is vervang met ‘n geplaveide area wat kan dien as veilige speel area vir jong kinders.
Onder:
Die speelarea vir die Tutorhub, veilig agter die omheining, soos dit daar uitsien in 2023.
Minder opsigtelike, maar redelik ingrypende veranderinge is aangebring in die binneruimte van die saal-kompleks.
Die ou kategeselokaal langs die nuwe kerkkantoor is gedurende 2021 opgeknap en ingerig as ‘n konferensiekamer …. Lees gerus meer.
Min of meer die laaste sien van die gallery was die Basaarmark in 2021. Kort hierna is die binne-aansig van die saal drasties verander deurdat die gallery toegebou is.
Die Tutor Hub Leersentrum bied alternatiewe skool opsies aan vir leerders en gee ook middae bystand vir skoolgaande leerders vanaf Gr. R tot Gr. 12.
Die ou gallery is omskep in twee klaskamers, en die vorige stoorkamers is vergroot om nog drie klaskamers te vorm.
Hierdie klaskamers sal hopelik in die toekoms vir die Sondagskool gebruik word, en word tans deur The Tutor Hub benut.
Die ou voorportaal is ook ingerig vir gebruik deur die Sondagskool en Die Tutor Hub.
Talle minder opsigtelike, maar noodsaaklike, instandhoudingsprojekte is voltooi.
Die lys sluit in: