Die musiekprogram is ingelei met die Paassangfees op 14 April,
en is afgesluit met ‘n besonderse Kerssangdiens op 24 November.
Tussenin was daar ‘n geleentheid waar die herstelde orrel ingewy is deur Zorada Temming,
‘n uitvoering deur die Kaapstadse Koperblaasorkes, asook drie kapelkonserte.
‘n Heerlike musikale feesgeleentheid met samesang en besonderse musiek ter viering van Paasfees!
Soliste & musikante: Kyle Seconna, Hilandi du Toit, Grethe van der Merwe, Olga Leonard, Babette Viljoen, Inge Leonard
Kore: Helderberg Kantory, Somerset-Wes Kerkkoor, Spesiale Feeskoor, Laerskool Beaumont koor.
Sondagmiddag 28 April 2019 het die Moederkerk en omgewing weergalm met die pragtige orrelklanke uit die onlangs gerestoureerde orrel. Dit was een van die spoggeleenthede op die Twee-eeuefeesprogram, met die bekende Zorada Temmingh van Stellenbosch voor die orrel.
Zorada is verwelkom en voorgestel deur Ds Willem Doman, die voorsitter van die Feeskomitee. Die kunstige ruiker het pragtig bygedra tot die atmosfeer.
Hierna het sy aan die redelik volgepakte kerk verduidelik hoe sy improviseer (en nie komponeer nie), waarna sy haar improvisasie tegnieke gedemonstreer het met die uitvoering van ‘n aantal kerkgesange. Voorwaar ‘n ondervinding om te beleef, soos bewys deur die staande applous aan die einde.
Die ervaring is visueel baie effektief versterk deur die beeld wat op die skerm voor in die kerk geprojekteer is, afkomstig van ‘n kamera wat op die orrel ingestel was. Hierdeur kon ‘n mens gelyktydig hoor en sien hoe die vingers vlieg oor die klawers terwyl die voete die basnote speel.
Kaapstad se koperblaasorkes het gesorg vir ‘n feestelike konsert as deel van die 200ste bestaansjaarvieringe.
Die 33 orkeslede onder leiding van Stuart Scott het ‘n verskeidenheid musiek gespeel – van Flight of the Bumblebee & Spanish Eyes tot Elsa’s Procession to the Cathedral Wedding. Die kerkgebou se akoestiek het daartoe bygedra dat die lieflike koperblaasklanke behoorlik die kerk se dak laat lig het!
En so het die twee-eeuefeesjaar op ‘n baie hoë noot geëindig met Sondagaand se sangdiens. Baie dankie vir ‘n wonderlike program, Babette.
Die kerkruimte was feitlik propvol en die gemeentesang het die akoestiek absoluut tot sy reg laat kom.
Vanaf Laerskool Beaumont se fluitspelers en die baie sterk koor van die Nuwe Apostoliese Kerk as besoekers, Babette se span vriende: Olga Leonard, Trudie Prinsloo, Kyle Secona en ander, tot die gemeente se kleuters saam met Trudie en Rona en die Gemeentekoor met die soliste Dawie en Lafras, het almal bygedra tot ‘n geseënde belewenis.