Kyk gerus na die Video waarin Sonette van Wyk meer oor die Seniorsorg vertel. (Maart 2026)
(Uit: Helderberg Uitreik Jaarverslag 2024/2025)
Sien gerus die volledige verslag in: Helderberg Uitreik Jaarverslag 2024.2025
Om uit te reik in die gemeenskap is soveel meer as om muffins en koekies aan bejaardes te verskaf. Die deernis waarmee ons hul behandel en aandag wat elkeen van ons groep aan hulle gee tydens besoeke, vertel van Hoop in ons omgeegroep. Slegs ‘n aanraking wanneer ons besoek, word so waardeer. Jesus het voete gewas en ons probeer dieselfde met ons uitreik doen.
Om die plekkie rondom ons bejaardes bietjie mooier te maak, is inspirasie vir hulle dat ons omgee. ‘n Pragtige dankie-sê kaartjie van ‘n inwoner van Huis Marie Louw is een van die getuienisse. ‘n Lidmaat van Helderberg se e-pos om dankie te sê vir die Kersboks, was ook ‘n aanraking aan die hart. Ons het die mooi boodskap ontvang van Tygerberg Hospitaal vir bydraes wat van ons lede daarheen gestuur het. So word ook die Familie Skuiling gehelp deur die brei van truie en komberse.
Sonder ons bereidwilliges wat deel is van Seniorsorg, sal niks moontlik wees nie. Dis God se aanraking aan elkeen se hart, wat die projekte van ons so spesiaal maak. Samewerking tussen verskeie projekte word deur lede van ons span gedoen. Wat ‘n voorreg om saam met diè formidabele span te funksioneer.
Daagliks leef ons in bewondering oor God se goedheid wat deur mense op aarde uitgeleef word.
